NAMA KHOI PLAASLIKE MUNISIPALE RAAD

 

KREDIETBEHEER VERORDENINGE

 

 

Die Munisipale Bestuurder van die Nama Khoi Plaaslike Munisipale Raad, ingevolge sub-artikel 156(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, (108 van 1996) gelees saam met artikel 13 van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000), publiseer hierdie verordening as ‘n verordening deur die Raad opgestel.

 

1.                  WOORDOMSKRYWINGS

In hierdie verordeninge, tensy die sinsverband anders aandui beteken:

“apparate”  sluit in ‘n gebou, struktuur, pyp, pomp, draad, kabel, meter, masjien, of enige sluitstuk.

“eienaar” 

(a)                die persoon in wie die wettige eiendomstitel van die perseel van tyd tot tyd gevestig is;

(b)               in die geval waar die persoon in wie die wettige eiendomstitel gevestig is, insolvent of oorlede is,  of in enige toestand van regsonbevoegdheid is, die persoon in wie die administrasie en beheer van die perseel gevestig is as kurator, trustee, eksekuteur, administrateur, geregtelike bestuurder, bestuurder, likwidateur, of ander regsverteenwoordiger;

(c)                in enige geval waar die Raad nie die identiteit van so ‘n persoon kan vasstel nie, ‘n persoon wie geregtig is tot die voordeel van so ‘n perseel of ‘n gebou daarop;

(d)               met betrekking tot –

(i)                 ‘n stuk grond wat op ‘n deeltitelplan aangedui is ingevolge die Wet op Deeltitels, 1986, (Wet 95 van 1986), sonder om bogenoemde te beperk, die ontwikkelaar of bestuursliggaam met betrekking tot die gemeenskaplike eiendom;

(ii)               ‘n gedeelte soos omskryf in sodanige Wet, die persoon in wie se naam sodanige gedeelte geregistreer is in ‘n deeltitelakte en sluit die wettig aangestelde agent van so ‘n persoon in;

(e)                enige regspersoon ingesluit maar nie beperk nie tot –

(i)                 ‘n maatskappy geregistreer ingevolge die Wet op Maatskappy, 1973 (Wet 61 van 1973) trust inter vivos, trust mortis causa, ‘n Beslote Korporasie, geregistreer ingevolge die Wet op Beslote Korporasies, 1984 (Wet 69 van 1984), ‘n Vrywillige Assosiasie;

(ii)               Enige Regeringsdepartement

(iii)             Enige Raad of Direksie gestig ingevolge die wetgewing soos van toepassing in die Republiek van Suid-Afrika

(iv)             Enige Ambassade of ander buitelandse entiteit.

“Hoof Finansiële Beampte”  ‘n persoon deur die Raad aangestel om inter alia die Raad se finansiële administrasie en skuldinvordering van die Raad se debiteure te bestuur.

“okkupant/bewoner”  enige persoon wat enige perseel of gedeelte van so ‘n perseel okkupeer ongeag die titel van okkupasie.

“kliënt”  enige okkupant van enige perseel waar die Raad dienste lewer of ingestem het om dienste te lewer, en indien daar geen okkupant is nie, die eienaar van die perseel.

“kliëntbestuur”  die fokus op die kliënt se behoeftes op ‘n responsiewe en proaktiewe wyse om betaling aan te moedig en om die afdwinging van bepalings te beperk.

“krediet beheer”  alle funksies met betrekking tot die invordering van gelde verskuldig deur belastingbetalers en gebruikers van munisipale dienste.

“munisipale dienste” die dienste, heffings en belastings soos op die munisipale rekening van die Raad aangedui, waarvoor betaling vereis word.

“munisipale rekening” sluit in diensgelde of heffings met betrekking tot die volgende dienste en/of belasting:

(a)                Elektrisiteitsverbruik

(b)               Waterverbruik

(c)                Alle Reinigingsdienste

(d)               Heffings en Belasting gehef volgens die waarde van eiendom

(e)                Rente

(f)                Alle ander Diverse heffings

“perseel”  die Nama Khoi Plaaslike Munisipale Raad en sluit in die Burgemeester, Politieke Ampsbekleërs, Politieke Strukture, Munisipale Bestuurder en enige ander beampte met gedelegeerde bevoegdheid ingevolge artikel 59 van die Wet op Plaaslike Regering:  Munisipale Stelsels (Wet 32 van 2000);

“rekening opstel en uitstuur”  behels die behoorlike formele in kennis stel (fakturering) op ‘n rekeningstaat aan elke kliënt van bedrae soos gehef vir eiendomsbelasting en munisipale dienste gelewer en die netto geakkumuleerde saldo van die rekening.

“rente”  verteenwoordig ‘n heffing wat dieselfde is as diensheffings en word bereken teen ‘n koers soos van tyd tot tyd deur die Raad op alle uitstaande munisipale rekeninge.

“wanbetaler”  daardie persone wat vir ‘n tydperk langer as 30 (dertig) dae vanaf datum van rekening, ‘n bedrag ten opsigte van belasting en/of diensheffings asook alle diverse heffings aan die Raad verskuldig is.

2.                  ALGEMENE BEPALINGS

(1)               Kennisgewings en dokumente

(a)                ‘n Kennisgewing of ‘n dokument deur die Raad uitgereik ingevolge hierdie verordeninge sal beskou word as behoorlik uitgereik indien dit onderteken is deur ‘n beampte deur die Raad daartoe gemagtig.

(b)               Indien ‘n kennisgewing op ‘n persoon ingevolge hierdie verordeninge beteken moet word, sal die betekening uitgevoer wees indien:

(i)                 die kennisgewing persoonlik op hom/haar of sy/haar behoorlik daartoe gemagtigde agent beteken is;

(ii)               die kennisgewing by sy/haar woning of werkplek op ‘n persoon klaarblyklik nie jonger as sestien jaar oud nie en klaarblyklik daar woonagtig of werksaam is;

(c)                indien hy/sy ‘n adres vir regsdoeleindes genomineer het die kennisgewing by so ‘n adres af te lewer.

(d)               Per geregistreerde pos na sy/haar laaste bekende adres;

(e)                In die geval van ‘n bestuursliggaam, deur die kennisgewing af te lewer by die adres van die geregistreerde kantoor of besigheidsperseel van so ‘n bestuursliggaam

(f)                Indien betekening nie suksesvol ingevolge paragrawe (b) en (c) uitgevoer kon word nie, deur die kennigewing by die hoofingang van die perseel vas te heg of dit op ‘n opvallende plek op die betrokke grond, te plaas.

(2)        Verifikasie van dokumente

(a)                Elke bestelling, kennisgewing of ander dokumente wat verifikasie deur die Raad vereis, sal voldoende bekragtig wees indien deur die Munisipale Bestuurder of ‘n hoorlik gemagtigde beampte van die Raad, onderteken is, met dien verstande dat hierdie magte oorgedra is deur ‘n resolusie of verordening van die Raad.

(b)               Die aflewering van ‘n afskrif sal geag word ‘n aflewering van die oorspronklike.

(3)               Volle en finale vereffening van ‘n rekening

(a)                Die toewysing op ‘n rekening as ‘n bedrag betaal word wat minder is as die verskuldigde bedrag op die rekening sal in die volgende orde plaasvind:

(i)                 Uistaande Saldo’s

(ii)               Belasting

(iii)             Reinigingsdienste

(iv)             Water

(v)               Elektrisiteit

(vi)             Alle ander diverse heffings

 

(b)               Wanneer die werklike verskuldigde en betaalbare bedrag nie ten volle betaal is nie, sal enige mindere bedrag wat aangebied en ontvang is deur ‘n werknemer van die Raad, behalwe die Hooffinansiële Beampte en/of sy/haar ten volle gemagtigde beampte, sal nie geag word as ‘n finale vereffening van sodanige rekening nie.

(c)                Die bepalings van sub-artikels (3)(a) sal geld, desnieteenstaande die aanbieding en ontvangs van die mindere bedrag as volle vereffening.

(4)               Renteheffings

Onderworpe aan die bepalings van die Plaaslike Regerings Oorgangswet 1993 (Wet 209 van 1993) of enige ander wet met betrekking tot rente, mag die Raad rente hef en invorder met betrekking tot enige bedrag verskuldig en betaalbaar aan die Raad.

(5)               Prima Facie Bewyse

‘n Sertifikaat wat die bedrag verskuldig en betaalbaar aan die Raad aandui, onder die hand van die Munisipale Bestuurder of behoorlik gekwalifiseerde beampte deur die Munisipale Bestuurder gemagtig, sal deur die blote vertoning daarvan, deur enige hof as prima facie bewys van die skuld aanvaar word.

3.                  INVORDERINGSREGTE VAN DIE RAAD

(1)               Gedishonoreerde betalings

Indien enige betaling aan die Raad later deur die bank gedishonoreer word, mag die Raad die koste en administrasiefooie teen die rekening van die wanbetaler ingevolge die Raad se tariefbepalings hef:

(a)                Gedishonoreerde tjeks

(b)               Die wanbetalings wat ingevolge 1(a) geskied, sal tot gevolg hê dat slegs kontantbetalings in die toekoms aanvaar sal word op die spesifieke rekening.

(2)               Regskoste

Alle regskoste, insluitend prokureur-en-eie-kliëntkoste, wat ontstaan het met die invordering van agterstallige bedrae, sal teen die agterstallige rekening van die debiteur gehef word.

(3)               Koste van aanmaning van agterstallige gelde aan debiteur

Vir enige aksie wat aangegaan is om betaling van die debiteur te eis of om die debiteur vir agterstallige skuld aan te maan, hetsy hom/haar per telefoon, faks, e-pos, brief of andersins in kennis te stel dat betaling verkuldig is, kan ‘n boete teen die rekening van die debiteur gehef word volgens die Raad se bepalings.

            (4)        Afsluitingskoste

Indien enige dienste opgeskort word as gevolg van die nie-nakoming van hierdie verordening deur die kliënt, is die Raad geregtig om die standaard-afsluitingskoste soos van tyd tot tyd deur die Raad bepaal, van die gebruiker van die dienste, te hef en in te vorder.

(4)               Rekeninge

Die raad mag

(a)                enige afsonderlike rekeninge van ‘n persoon wie aan die munisipaliteit betaling verskuldig is, konsolideer.

(b)               Enige ongespesifiseerde betaling deur so ‘n persoon teen enige rekening van daardie persoon krediteer;  en

(c)                Enige van die skuldinvordering en kredietbeheermaatreëls soos bepaal in hierdie verordening met betrekking tot enige agterstallige gelde op enige van so ‘n persoon se rekening.

4.                  DIENSOOREENKOMS

(1)               Geen dienste sal gelewer word alvorens aansoek gedoen word deur die eienaar en ‘n diensooreenkoms soos deur die Raad voorgeskryf in die formaat van Skedule 1, aangegaan is en ‘n deposito gelykstaande aan die bedrag en in die vorm van kontant of ‘n bankwaarborg, soos deur die Raad van tyd tot tyd voorgeskryf as sekuriteit, ten volle betaal is.

(2)               Die voorneme om die diensooreenkoms te beëindig moet skriftelik aan die ander party verstrek word.

5.                  DIENSLEWERING AAN / HANDEL DRYF MET DIE RAAD DEUR BESIGHEDE WAT UITSTAANDE MUNISIPALE REKENINGE HET

(1)               Besighede wat uitstaande munisipale rekeninge het, word gediskwalifiseer om diens te lewer aan / handel te dryf met die Raad.

(2)        Besighede wat op tender advertensies reageer moet ‘n sertifikaat voorlê, onderteken deur die Hoof Finansiële Beampte, waarin gesertifiseer word dat die voornemende tenderaar geen uitstaande munisipale rekeninge het nie, of andersyds moet die voornemende tenderaar, indien die tender aan hom/haar toegeken is, ‘n onderneming teken dat alle uitstaande munisipale rekeninge vanaf die eerste uitbetaling van die tenderbedrag verhaal mag word.  Hierdie voorwaarde moet deel uitmaak van die tenderdokument.

6.                  INSTELLING VAN WYKSKREDIETBEHEERKOMITEES

6.1              Wykskredietbeheerkomitees moet ingestel word, wat bestaan uit die wyksraadslid en ten minste twee gekoöpteerde lede.  Die funksie van hierdie komitee is om maandeliks aansoeke om dienstesubsidies te keur asook ‘n beter kontrole oor uitstaande munisipale rekeninge uit te oefen in samewerking met die dienspuntpersoneel.  Die komitee ontvang volledig voltooide subsidie aansoekvorms, met die nodige dokumente aangeheg, asook ‘n lys van alle verbruikers in daardie spesifieke wyk uitstaande.  Die komitee gee opdrag aan die dienspuntpersoneel oor invorderingsaksie, in lyn met die Raad se invorderingsbeleid en Verordeninge.

7.                  INVORDERING VAN AGTERSTALLIGE BEDRAE

7.1              Kredietbeheerbeleid

Die Raad sal beskik oor ‘n geskrewe beleid oor kredietbeheer en skuldinvordering, wat voorsiening maak vir:

(a)                kredietbeheer prosedures en meganismes

(b)               skuldinvordering prosedures en meganismes

(c)                voorsiening vir behoeftige debiteure wat in lyn is met belastings- en tariefbeleide asook enige nasionale beleid oor behoeftiges

(d)               rente op agterstallige gelde

(e)                verlenging van tyd vir betaling van rekeninge

(f)                beëindiging van dienste of die beperking van verskaffing van dienste wanneer betalings agterstallig is

(g)               met die bepaling van die beleid mag die Raad onderskeid maak tussen kategorieë van persone, kliënte, debiteure en eienaars soos dit nodig mag wees.

7.2              Reg om dienste te beëindig of die verskaffing daarvan te beperk

(a)                Die Raad mag voorsiening van water en elektrisiteit beperk of opskort of enige ander dienste tot enige perseel opskort wanneer die gebruiker van die dienste:

(i)                 versuim om die volle betaling op die verskuldigde dag te maak of versuim om aanvaarbare reëlings vir die betaling van enige bedrag vir dienste, diverse heffings of belastings te tref:

(ii)               versuim om te voldoen aan ‘n voorwaarde van voorsiening deur die Raad neergelê;

(iii)             die effektiewe voorsiening van elektrisiteit, water of enige ander munisipale diens aan ‘n ander kliënt belemmer;

(iv)             enige munisipale dienste aan ‘n kliënt wat nie daartoe geregtig is nie, voorsien of toelaat dat sodanige diens voortgaan;

(v)               ‘n situasie of toestand veroorsaak wat volgens die mening van die Raad gevaarlik is of ‘n oortreding van die relevante wetgewing is;

(vi)             onder voorlopige sekwestrasie, likwidasie of geregtelike bestuur geplaas word of ‘n daad van insolvensie pleeg ingevolge Wet 24 van 1936;

(vii)           indien ‘n administrasiebevel toegestaan word ingevolge artikel 74 van die Wet op Landdroshowe, 1944 (Wet 32 van 1944) met betrekking tot sodanige gebruiker.

(b)               Die Raad sal die dienste heraansluit en herstel tot volle vlak van voorsiening van enige beperkte of opgeskorte dienste slegs nadat die volle uitstaande bedrag verskuldig tesame met die koste van so ‘n opskorting en heraansluiting, indien enige, ten volle betaal is of enige voorwaarde of voorwaardes soos in die Raad se kredietbeheerbeleid wat nodig blyk te wees, nagekom is.

(c)                Die reg van die Raad om water na enige perseel of gebruiker te beperk is onderhewig aan die bepalings van artikel 4 van die Wet op Waterdienste (Wet 108 van 1997).

(d)               Die reg om diens te beperk, op te skort of te beëindig as gevolg van wanbetaling van enige ander diens of eiendomsbelasting sal met betrekking tot enige diens deur die Raad verskaf wees en sal gehandhaaf word desnieteenstaande die feit dat die persoon wat die kontrak vir die verskaffing van dienste met die Raad aangegaan het en die eienaar twee verskillende entiteite of persone, wat die geval ook mag wees, is.

                        (e)        Indien ‘n verbruiker uitstaande is, word voorafbetaalde water- en/of eklektrisi-teitsmeters, op die verbruiker se koste, op die betrokke erf geïnstalleer.  Die meter- en installasiekoste word dan maandeliks vanaf die voorafbetaalde water- en/of elektrisiteitsverkope verhaal totdat die totale koste verhaal is.  Verder word die verbruiker se maandelikse vullis- en riooltarief ook deel gemaak van die voorafbetaalde waterverkope. 

7.3              Reg tot toegang en inspeksie

(a)                ‘n Behoorlik daartoe gemagtigde verteenwoordiger van die Raad mag vir enige doeleindes met betrekking tot die implementering en handhawing van hierdie verordeninge te enige tyd of in noodgevalle op enige tyd, ‘n perseel betree, inligting versoek en ’n ondersoek of inspeksie, soos hy/sy nodig ag, uitvoer en vir die doeleindes van installering of herstel van enige meter of diensaan-sluiting vir retikulasie, of om voorsiening van enige diens op te skort, te staak of te beperk.

(b)               Indien die Raad dit nodig ag dat werk gedoen moet word om die beampte in staat te stel om ‘n funksie soos verwys in (a) hierbo behoorlik en effektief uit te voer, mag dit –

(i)                 geskied deur middel van ‘n geskrewe kennisgewing waarin die eienaar of okkupant van die perseel vereis word om op eie koste die gespesifi-seerde werk binne ‘n gespesifiseerde tydperk te verrig;

(ii)               indien die situasie volgens die Raad se mening ‘n noodgeval is, sonder vooraf kennisgewing sulke werk uitvoer of toesien dat dit uitgevoer word op die eienaar se koste.

(c)                Indien die werk waarna verwys in (b) hierbo uitgevoer is slegs met die doel om te bepaal watter oortreding van hierdie verordening plaasgevind het en indien geen oortreding plaasgevind het nie, sal die Raad die uitgawe met betrekking tot die werk uitgevoer tesame met die herstel van die perseel tot die vorige toestand waarin dit gevind was, dra.

7.3.1        Reëlings om uitstaande en verskuldigde bedrag in opeenvolgende paaiemente te betaal

(a)                ‘n Debiteur mag ‘n geskrewe ooreenkoms met die Raad aangaan om enige uitstaande en verskuldigde bedrag te betaal onder die volgende voorwaardes:

(i)                 die uitstaande balans, koste en enige rente daarop in gereelde en opeenvolgende maandelikse paaiemente betaal sal word;

(ii)               die geskrewe ooreenkoms deur ‘n behoorlik gemagtigde beampte van die Raad namens die Raad onderteken word;

(b)               Indien enige dispuut oor die bedrag verskuldig deur die eienaar met betrekking tot munisipale dienste ontstaan, moet die eienaar desnieteenstaande die dispuut, gereelde minimum betalings gebaseer op die berekening van die gemiddelde munisipale rekening vir die drie (3) maande voorafgaande die dispuut, met inagneming van die rente asook die jaarlikse wysigings van die tariewe van die Raad, maak.

7.4              Heraansluiting van dienste

Die Hoof Finansiële Beampte of sy/haar gevolmagtigde sal die heraansluiting van die dienste of herinstelling van die dienstelewering goedkeur nadat bevredigende betaling en/of reëlings gemaak is met betrekking tot die Raad se Kredietbeheerbeleid.

8.                  EIENDOMSBELASTING

8.1              Bedrag verskuldig ten opsigte van eiendomsbelasting

(a)                Alle eiendomsbelasting verskuldig deur die eienaar van eiendomme is betaalbaar voor of op die vasgestelde datum deur die Raad bepaal.

            8.2       Verbod op oordrag van eiendom

(a)                ‘n Registrateur van aktes of enige registrasie beampte van onroerende eiendom mag nie die oordrag van eiendom registreer, behalwe op die vertoon van ‘n voorgeskrewe sertifikaat aan die registrasiebeampte –

(i)                 uitgereik is deur die munisipaliteit waar die eiendom geleë is;  en

(ii)               wat sertifiseer dat alle bedrae verskuldig ten opsigte van daardie eiendom vir munisipale diensfooie, boetes op fooie, eiendomsbelasting en ander munisipale belastings, heffings en gelde ten volle betaal is.

(b)               In die geval van oordrag van onroerende eiendom deur ‘n trustee van ‘n insolvente boedel, is hierdie artikel onderhewig aan artikel 89 van die insolvensiewet, 1936 (Wet 24 van 1936).

(c)                ‘n Bedrag verskuldig vir munisipale diensfooie, boetes op fooie, eiendomsbelas-ting en ander munisipale belastings, heffings en geld is ‘n heffing teen die eiendom met betrekking waartoe die bedrag verskuldig is en geniet voorkeur bo enige eiendomsverband geregistreer teen die eiendom.

9.                  VERSLAPPING, KWYTSKELDING EN BEGUNSTIGING

9.1              Die Raad mag onderskeid tref tussen verskillende kategorieë van belastingbetalers, gebruikers van dienste, kliënte, debiteure, belastings, dienste, diensstandaarde en ander sake.

9.2              Die Raad mag skriftelik in ‘n spesifieke omstandigheid en vir ‘n besondere eienaar of kliënt die vereistes van ‘n bepaling van hierdie verordening verslap of van afstand doen.

9.2.1        Enige sodanige onderskeid of verslapping sal op voorwaardes soos nodig blyk te wees gedoen word, indien van mening is dat die aansoek of uitvoering van die bepaling in die spesifieke omstandighede onredelik sal wees.

10.              AANMELDING VAN WANBETALERS

Die Raad mag volgens sy diskresie deur ‘n behoorlik daartoe gemagtigde beampte enige persone wat gelde aan die Raad verskuldig is aan instansies wat sulke inligting versamel en behou, rapporteer.  Die inligting wat in so ‘n verslag ingesluit sal word, sal die beskikbare persoonlike inligting van die wanbetaler, of in die geval van regspersoon, verantwoordelike beamptes van so ‘n regspersoon wees.

11.              TEENSTRYDIGE VERORDENINGE

Indien enige teenstrydigheid tussen hierdie verordening en enige ander verordening van die Raad bestaan, sal hierdie verordening voorkeur geniet.

 

12.              OORTREDINGE

      Enige persoon wie:

(a)                weier om toegang aan ‘n beampte te verleen ingevolge hierdie verordening;

(b)               ‘n beampte in die uitoefening van sy/haar bevoegdhede of uitvoering van funksies ingevolge hierdie verordening belemmer of verhinder;

(c)                inbreuk maak op die Raad se toerusting en/of dienste wat voorsien word;

(d)               enige seël op ‘n meter of op enige toerusting wat aan die Raad behoort, peuter of breek of vir enige rede soos deur die Hoof Finansiële Beampte bepaal, veroorsaak dat ‘n meter nie behoorlik registreer nie, sal gehef word vir die gebruik soos bereken deur die Hoof Finansiële Beampte volgens die gemiddelde verbruik;

(e)                weier om enige beampte van inligting op sy/haar redelike versoek te voorsien vir die doel om sy/haar bevoegdhede uit te oefen of om funksies uit te voer onder hierdie verordening of wat aan sodanige beampte vals of misleidende inligting verskaf met die wete dat die inligting vals of misleidend is;

(f)                oortree of versuim om te voldoen aan enige bepaling van hierdie verordening;

(g)               weier om te voldoen aan die voorwaardes van ‘n kennisgewing wat op hom/haar beteken is ingevolge hierdie verordening;

begaan ‘n misdryf en is met skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete van hoogstens R25 000.00 (vyf-en-twintig Duisend Rand) of met gemeenskapsdiens vir ‘n tydperk van hoogstens 24 (vier-en-twintig) maande, of met ‘n kombinasie van beide voorafgenoemde.

13                HERROEPING VAN VERORDENINGE

Die verordeninge van die vorige Munisipale Rade en/of Oorgangsrade van Springbok, Steinkopf, Concordia, Komaggas, Okiep, OCC VOR, Gariep VOR wat betrekking het tot sake in hierdie verordening, word hiermee herroep.