NAMA KHOI MUNISIPALITEIT
GRONDBELEID
(Goedgekeur: Raadsvergadering 19 Maart 2008)
(Veranderings – raadsvergadering op 10 Julie 2008)

WOORDOMSKRYWINGS
In hierdie beleid, tensy dit uit die samehang anders blyk, beteken:
(1) Nama Khoi Munisipaliteit ‘n Plaaslike regeringsinstansie daargestel ingevolge die Grondwet van Suid-Afrika (Wet 108 van 1996).
(2) Ruimtelike Ontwikkelingsplan ‘n Omvattende plan wat die bestaande grond en die toekomstige gebruik van vakante grond in die Nama Khoi Munisipale regsgebied weergee.
(3) Enkel residensiële erwe wanneer gebruik in die konteks lae koste behuising beteken residensiële erwe spesifiek geoormerk vir die vestiging van lae koste behuising.
(4) Lae koste behuising beteken behuising daargestel vir mense in ‘n lae inkomste groep ingevolge die Wet op Behuising, Wet 107/1997.
(5) Enkel residensiële erwe wanneer gebruik in die konteks van ekonomiese gebruik beteken residensiële erwe vir residensieël asook ander grondgebruik soos vervat in die Nama Khoi Skema Regulasies.
(6) Ontwikkeling/Ontwikkel die gebruik van grond of ‘n deel daarvan of fisiese verbetering van die grond deur dit voor te berei vir ontwikkeling, insluitende die opvulling van grond, dreinering of gelyk maak van grond, installering van ingenieursdienste, die onderverdeling van grond en die oprigting, verandering of uitbreiding van geboue op grond.
(7) Ontwikkelaar ‘n Besigheidsentiteit of natuurlike persoon wat munisipale grond op eie koste wil ontwikkel.
(8) Meentgrond Die gebiede binne die regsgebied van die Nama Khoi Munisipaliteit wat vir weidingsdoeleindes aan lede van spesifieke groepe van die Nama Khoi Munisipaliteit gemeenskappe beskikbaar gestel is en sluit die Concordia, Komaggas, Steinkopf, OCC en Springbok Meent.
(9) Markverwante waarde ‘n Markverwante waarde met betrekking tot grond of geboue, ‘n geregverdige gewaardeerde waarde gekoppel aan grond of geboue en waarop dit in die ope mark verhandel.
(10) Swart Ekonomiese Bemagting Soos ingevolge die bepalings van Nama Khoi Munisipaliteit se Voorkeurverkrygingsbeleid.
(11) Hersonering ‘n verandering van een kategorie grondgebruiksaktiwiteit na ‘n ander kategorie.
(12) Onderverdeling daar grond onderverdeel deur middel van opmeting
(13) Konsolidasie twee of meer erwe saamgevoeg word ten einde as een nuwe erf met ‘n nuwe erf nommer en grootte geregistreer te word.
(14) Onroerende eiendom vakante grond of geboue in die Nama Khoi regsgebied waarvan Nama Khoi Munisipaliteit die regmatige eienaar is.
(15) Openbare ruimtes grond aangewys as openbare ruimtes op ‘n algemene plan of diagram of gespesifiseer binne die soneringskema van Nama Khoi Munisipaliteit en beteken enige grond wat in besit is van die Munisipaliteit, of gaan kom, nie op ‘n langtermyn verhuur gaan word nie en aangewend word of gaan word deur die publiek as ‘n oopruimte, park, tuin, speelterrein, ontspanningsterrein, piekniek terrein of plein.
(16) Beampte van die Raad Beampte in diens van Nama Khoi Munisipaliteit.
(17) Uitsteeksels ‘n Veranda, balkon, teken, uithangbord of soortgelyke struktuur, toestel of lis wat in of oor ‘n openbare plek of openbare straat uitsteek.
(18) Oorskrydings met betrekking tot grond, om die sy-, agter- en straat grense se beperking soos in Nama Khoi Munisipaliteit se Skemaregulasies te oorskry.
(19) Gedienste erf
1. INLEIDING
Nama Khoi Munisipaliteit erken dat die beskikbaarheid van grond van kritieke en primêre belang is vir enige soort grondontwikkeling. ’n Aanvaarbare en billike oplossing vir grondaanvraag is ‘n belangrike komponent vir die uitbouing en volhoubaarheid van die Grondwetlike Demokrasie in Suid-Afrika. Die doel van die beleid is om nie die bestaande grondregte te skend nie, maar om leiding te verskaf vir die vervreemding en gebruikverandering van grond in die toekoms binne die munisipale grense van Nama Khoi Munisipaliteit.
2. VISIE
Om die mees suksesvolle en verantwoordpligtige Munisipaliteit te vestig deur ‘n uitstaande verbruiker georiënteerde diens te lewer tot voordeel van die breër gemeenskap.
3. MISSIE
Nama Khoi Munisipaliteit streef daarna om beperkte beskikbare hulpbronne optimaal, effektief en verantwoordbaar aan te wend ten einde:
· Uitstaande munisipale dienste aan die gemeenskap te lewer; en
· Ekonomiese ontwikkeling in die gebied met klem op die agtergeblewe areas te stimuleer.
4. DOELWITTE / OOGMERKE
· Die doel van die beleid is om leiding te gee om op ‘n konsekwente basis munisipale grond te vervreem vir ontwikkelingsdoeleindes met inagneming van die bevinding van die Grondoudit.
· Verdermeer maak die beleid ook voorsiening vir die bevordering van swart en vroue bemagtiging soos bepaal in Wet 53/2003.
· Die bevordering van geleenthede aan voorheen benadeelde persone se deelname in die eiendomsmark (eiendomsontwikkeling, bestuur, beleggingsmark, sakesektor en residensieël) met inagneming van die tekortkominge soos bevind in die Grondoudit.
· Om ‘n regverdige en billike verdeling van grond te verseker.
· Om ‘n beginsel prosedure te ontwikkel wat ook die ongelyke grond eienaarskap aanspreek.
· Die behoefte aan grondhervorming om armoede te verlig en by te dra tot ekonomiese groei.
· ‘n Grondbestuurstelsel wat ‘n volhoubare patroon ondersteun vir die snelle beskikbaarstelling van grond vir ontwikkeling.
· Die verdere vestiging van die menslike integrasie soos aangedui in die Wet op Ontwikkeling Fasilitering van 1995 vir die oorbrugging van die verdraaide rasse vestigings wat as gevolg van die apartheids regime ontstaan het.
5. RIGSNOER
Die vervreemding van grond sal oorwegend die ongelyke grondeienaarskap aanspreek deur voorkeur te gee aan die histories voorheen benadeelde individue onder andere swartes, vrouens en gestremde persone wat deur vorige rasse regulasies benadeel is.
6. RUIMTELIKE ONTWIKKELING BEGINSELS
Die oogmerk in Ruimtelike Ontwikkeling Beplanning is om ‘n geskikte grondgebruik bestuur en verstandige grondgebruik te verseker wat gebasseer is op die volgende beginsels:
· Volhoubaarheid
Grond mag alleenlik gebruik en ontwikkel word ingevolge die toepaslike wetgewing en grondgebruikbeplanning en ontwikkeling moet te alle tye die natuur, omgewing en kulturele hulpbronne beskerm asook die integrasie vir die voorkoming van rampe of die verligtingsmaatreëls daarvan.
· Gelykheid
Grondgebruikbeplanning en ontwikkeling moet saamgestelde menslike vestigings bevorder wat lae intensiteit in wyd uitgestrekte dorpsgebiede bekamp.
· Integrasie
Grondgebruikbeplanning en ontwikkeling sal in aanmerking geneem word en betrekking hê op sektoriale beleide van ander liggame in die omgewing en Departemente van die Regering en sal rasse integrasie, funksionele en integrale vestigings bevorder.
· Goeie Beheer
Die proses van grondgebruikbeplanning en ontwikkeling moet ten alle tye deursigtig en openlik wees. Besluite rakende grondgebruik en ontwikkeling moet voldoen aan bogenoemde beginsels, maar berus die finale besluit oor watter beginsel meer gunstiger is vir enige bepaalde omstandighede by die besluitnemers.
7. GLOBALE OORSIG OOR GRONDEIENAARSKAP IN DIE NAMA KHOI MUNISIPALE GEBIED
Die kern verantwoordelikheid van Nama Khoi Munisipaliteit is om grond te bekom en beskikbaar te stel ten einde sosiale en ekonomiese ontwikkeling te vergemaklik.
Hierdie Grondbeleid is ’n gereedskapstuk vir die vervreemding van grond wat ongelykhede en eienaarskap in die Nama Khoi Munisipale Gebied aanspreek. Laasgenoemde word gebasseer op die feit dat die Raad van Nama Khoi Munisipaliteit erken en bevestig dat in die realiteit eienaarskap hoofsaaklik aan die voorheen bevoorregte persone behoort het en dat hierdie toedrag van sake nou verander word deur die herverdeling en toedeling van grond aan die histories voorheen benadeelde groepe.
8. PROSEDURES/RIGLYNE AANGAANDE GROND VERVREEMDING PROSES
- Algemeen
(i) Na ‘n boutydperk grasie van 1 (een) jaar na datum van registrasie van eiendom/erf sal die BK heffing soos vervat in die Munisipaliteit se tariewelys van toepassing wees op alle erwe, uitgesluit enkel residensiële erwe wat geoormerk is vir die vestiging van lae koste behuising.
(ii) Nama Khoi Munisipaliteit sal die prys van die grond/erf bepaal met inagneming van die ontwikkeling- en administrasiekoste (byvoorbeeld installering van dienste, opmeetkoste, ensovoorts) van die grond.
· Administrasiekoste soos vervat in die Munisipaliteit se tariewelys, plus
· Onderworpe daaraan dat in die geval van ‘n landelike gebied (Wet 9 gebiede) sal die prys van erwe ontwikkel met staatsfondse bepaal word soos vervat in Artikel 20(2)(b) van die Wet op Landelike Gebiede (Wet 9/1987) waar die “bepaalde opmeetkoste” soos vervat in die genoemde Wet vasgestel word op R1 000,00 (Een duisend Rand).
· In ander gevalle die totale insetkoste.
(iii) Dat die erfprys, nadat ‘n kontant deposito van 10% van die kosprys betaalbaar is, betaal word oor ‘n onderhandelde termyn van 12 tot 18 maande.
(iv) Dat die oordrag van die betrokke erf nie sal plaasvind alvorens die erf nie ten volle betaal is nie.
(v) Dat alle aansoeke vir bestaande erwe eers deur die Wykskomitee goedgekeur word alvorens dit deur amptenare afgehandel word.
8.1 Enkel residensiële erwe (Lae koste behuising)
Die administratiewe hantering van die aanbiedinge en aansoeke vir enkel residensiële erwe moet geskied binne die voorskrifte van hierdie beleid. Die aanspreek van die ongebalanseerde eienaarskap van die verlede moet streng beklemtoon word.
Die vervreemding van enkel residensiële erwe in sub-ekonomiese gebiede sal beperk word tot een (1) erf per individu en aansoeke vir meer as een (1) erf sal alleenlik oorweeg word indien die aansoeker ‘n Ontwikkelaar is.
Nama Khoi Munisipaliteit moet ten alle tye poog om staatsfondse te bekom vir lae koste behuisingsontwikkelings.
Volle erfkoste ingesluit ontwikkelingskoste sal verhaal word van ‘n staat subsidie wat aan die begunstigde toegestaan word deur ‘n Behuisingsprojek.
8.2 Enkel residensiële erwe (ekonomies)
In ekonomiese woongebiede sal individue toegelaat word om meer as een erf te koop.
Slegs bruikbare grond kom in aanmerking vir prysbepaling en laer tariewe kan gehef word op rotsgebiede.
8.3 Multi-residensiële ontwikkeling
Grond mag alleenlik gebruik en ontwikkel word ingevolge die toepaslike wetgewing en grondgebruikbeplanning en ontwikkeling moet ten alle tye die natuur, omgewing en kulturele hulpbronne beskerm asook die integrasie vir die voorkoming van rampe of die verligtingsmaatreëls daarvan.
8.4 Ontwikkeling: Behuising vennootskap
Die Raad van Nama Khoi Munisipaliteit sal billike grond beskikbaar stel aan ander vennootskappe (Ontwikkelaars) vir die middel of hoë inkomste behuisingsontwikkeling onderhewig aan die volgende voorwaardes:
· Die installasie van massa dienslewering sal deur middel van onderhandeling tussen die Munisipaliteit en die Ontwikkelaar aangegaan word waar geen dienste struktuur bestaan nie.
· Die Ontwikkelaar sal verantwoordelik wees vir alle huisaansluitings volgens die bepalings van die tariefbeleid van die Raad.
· Die Ontwikkelaar sal verantwoordelik wees vir alle kostes aangaande die grond in terme van opmeting, sonering, hersonering, oordragte en onderverdeling indien dit nodig sal wees.
· Die Raad mag oorweging skenk aan ‘n vermindering in die markprys van die grond onderworpe daaraan dat onderhandel word vir ‘n teenprestasie soos byvoorbeeld ontwikkeling van laekostebehuising/-erwe.
· Vennootskap Behuisingsontwikkeling word ook as ‘n hoë prioriteit beskou en die Raad van Nama Khoi Munisipaliteit sal die finale besluit neem by sulke aansoeke.
· Gelyke Vennootskap Ontwikkeling sal in terme van die Voorsieningskanaalbestuursbeleid hanteer word.
· Ontwikkeling deur ‘n Ontwikkelaar sal in terme van die Voorsieningskanaalbestuursbeleid hanteer word.
8.5 Sake en Industriële grond & Individue vs Groot sake/industriele ontwikkeling
Die Munisipaliteit mag sekere gedeeltes grond vir sake sones en industriële doeleindes beskikbaar stel volgens hulle Ruimtelike Ontwikkelingsplan. Hierdie erwe sal beskikbaar gestel word aan die algemene publiek deur middel van publieke veiling of tender proses soos bepaal deur die Voorsieningskanaalbestuursbeleid.
8.6 Sosiale / Sport / Institusionele erwe
Sosiale / Sport / Institusionele erwe verwys na grond geoormerk vir godsdienstige doeleindes, voorskoolse ontwikkeling en sosiale dienste doeleindes. Toewysing van hierdie erwe sal op die basis van kriteria, voorkeur en prioriteite gedoen word onderhewig aan Raadsgoedkeuring. Spesiale pryse is onderhandelbaar met ‘n terugvalklousule aan die Raad sou die erf nie meer vir die spesifieke doel, soos ooreengekom, aangewend word nie.
8.7 MUNISIPALE MEENTGROND
Meentgronde binne die Nama Khoi munisipale gebied moet ingevolge die toepaslike wetgewing (onder andere Wet 9 / Transformasie wet) hanteer word, dit wil sê dorpsmeent en buitemeent.
8.7.1 Grond vir Plotte (klein plase)
Meentgrond sal hoofsaaklik gebruik word vir die doel om die armes, byvoorbeeld opkomende boere die geleentheid tot toegang tot sulke grond te gee. Gebruikers van hierdie grond sal ‘n nominale fooi volgens die weidingsregulasies betaal vir die onderhoud van die infrastruktuur op die grond.
8.7.2 Grond vir Mynbou aktiwiteite
Sal gereël word volgens bepalings en wetgewing soos bepaal deur die Departement van Mineraal- en Energiesake.
Die Munisipaliteit moet let op die sosiale ontwikkelingsplan en nakoming van verskeie permithouers op munisipale grond.
8.7.3 Verkoop/ruil van meentgrond aan ander staatsinstansies/ privaat instansies / individue
Die Raad van Nama Khoi Munisipaliteit mag in terme van samewerking en bestuur grond aan ander staatsinstansies verkoop deur middel van een van die volgende verkoop ingevolge relevante wetgewing:
i) Verkoop grond teen ’n markverwante waarde, of
ii) Verkoop grond teen ‘n verminderde bedrag/ruilingstransaksie, of
iii) Verhuur die grond vir ‘n voorgestelde periode.
9 BEVORDERING VAN SWART EKONOMIESE BEMAGTIGING (SEB)
i) Alle aansoeke van geinisieerde SEB maatskappye vir sake en of industriële ontwikkeling sal voorkeur geniet ingevolge die beginsels en voorskrifte van die voorsieningskanaalbestuursbeleid en die voorkeurverkrygingsbeleid.
ii) Die Raad van Nama Khoi Munisipaliteit mag die termes en voorwaardes asook die minimum prys (minder as die verwante markwaarde) vir die verkoop van die grond aan ‘n SEB maatskappy vasstel wat in lyn is met die doelwitte en oogmerke van hierdie beleid;
10 VOORWAARDES VAN VERHUUR VAN MUNISIPALE EIENDOM
10.1 Geen aansoek sal geprosesseer word nie tensy die applikant skriftelik bevestig het dat hy/sy alle koste sal betaal, dit is, regskostes, opmeting, hersonering, onderverdeling, konsolidasies, advertering, herlei of voorsiening van dienste. ‘n Deposito om onvoorsienbare uitgawes te dek, mag ook vereis word.
10.2 Die volgende (kontant of bank gewaarborgde tjeks) deposito’s sal van toepassing wees ten opsigte van verhurings waar die huur op markwaarde gebaseer is:
(i) ‘n deposito gelykstaande aan 2 maande se huur vir kommersiële transaksies;
(ii) ‘n deposito gelykstaande aan 1 maand se huur vir residensiële en maatskaplike dienste transaksies.
(iii) Geen deposito nie ten opsigte van tuin- en parkeverhurings ander dan kommersiële parkeerverhurings.
10.3 Geen onroerende eiendom sal onderverhuur, gesedeer of toegewys word sonder die voorafverkreë toestemming van die raad nie.
10.4 ‘n Eienaar van onroerende eiendom wat aangrensende munisipale onroerende eiendom huur, mag deur sy opvolger in titel vervang word vir die duur van die oorblywende termyn van huur, soos nodig mag wees, op dieselfde terme en voorwaardes en/of addisionele terme en voorwaardes.
10.5 Huurgeld sal jaarliks eskaleer teen ‘n persentasie soos van tyd tot tyd deur die raad bepaal.
10.6 Die Huurder van munisipale eiendom sal verantwoordelik wees vir die betaling van belastings en dienstegelde.
10.7 Die verhuring van lanings, openbare oopruimtes en padreserwes sal onderhewig wees aan die volgende:
(i) Sluiting/beskerming tot die raad se bevrediging;
(ii) Koste vir die herlei of installering van dienste, waar nodig, sal vir die rekening van die huurder wees.
(iii) Beskerming van serwitute
10.8 Die Huurder moet die raad vrywaar teen enige moontlike eise voortspruitend uit die verhuring of gebruik van die onroerende eiendom.
10.9 Wanneer grond vir ontwikkeling verhuur word, moet sodanige ontwikkeling, indien toepaslik, ‘n aanvang neem binne een jaar, of sodanige langer tydperk waartoe ooreengekom word, vanaf datum van okkupasie of in ooreenstemming met die bepalings van die verhuurooreenkoms of die ontwikkelingsprogram wat deur die Huurder voorgelê is en moet dit voltooi word in ooreenstemming met die voorwaardes van die verhuurooreenkoms of die ontwikkelingsprogram. ‘n Opskortende voorwaarde moet in die verhuurooreenkoms ingesluit word om voorsiening te maak vir verbeurdverklaring ingeval daar nie binne die vereiste tydperk ‘n aanvang met die ontwikkeling gemaak word nie.
10.10 Behalwe met vooraf toestemming, mag die eiendom slegs gebruik word vir die doeleindes waarvoor dit verhuur is en die doeleindes gereguleer deur stadsbeplanningskemas.
10.11 Die verhuurooreenkoms, waar toepaslik, moet binne 60 dae vanaf datum van ‘n amptelike versoek van die raad, gefinaliseer en gesluit word. Versuim om binne 60 dae vanaf die datum van die versoek, daaraan te voldoen, sal die toekenning geag te wees te verval het en die applikant sal sy/haar deposito verbeur en aanspreeklik gehou word vir die koste wat die bedrag van die deposito oorskry.
10.12 Beamptes van die raad sal ten alle redelike tye geregtig wees om die onroerende eiendom te betree en dit te inspekteer.
10.13 Alle ooreenkomste sal ‘n klousule bevat wat van die huurder vereis om die verhuurde eiendom in stand te hou.
10.14 Alle ooreenkomste sal ‘n klousule bevat wat vereis dat goedgekeuring vir verbeterings aangebring deur die huurder en wat die Raad wens te behou, sonder vergoeding, na die Raad sal terugval sodra die huurtermyn verstryk en/of ingeval die ooreenkoms, as gevolg van ‘n verbreking van die voorwaardes, gekanselleer word.
10.15 Huurtermyne sal nie 9 jaar en 11 maande oorskry nie, onderhewig aan die diskressie van die Raad.
11 VERHUURTERMYNE VIR KORT/TYDELIKE GEBRUIK
11.1 Dat alle voorwaardes (paragraaf 4 - Doelwitte/ oogmerke) van toepassing sal wees ten opsigte van die verhuur van onroerende eiendom vir kort/tydelike gebruik en nie ‘n opsie om te hernu bevat nie.
11.2 Onroerende eiendom wat vir kort termyn periodes verhuur word, dit is 14 dae vir sirkusse, ensovoorts sal aan die volgende onderhewig wees;
(a) Die nodige aansoekvorm voltooi en die huurgeld vooruitbetaal word;
(b) die applikant, indien benodig, op sy koste dienste, dit is vullis, water, elektrisiteit, ablusie fasiliteite, ensovoorts te verskaf of met die raad te reël vir die voorsiening daarvan;
(c) die applikant die grond in sy oorspronklike toestand terug te besorg;
(d) die huur deur die raad bepaal word;
(e) die applikant die raad vrywaar teen enige eise;
(f) die applikant skriftelik onderneem om die raad vir skade aangerig aan munisipale eiendom, wat uit welke omstandighede ookal mag ontstaan, te vergoed.
12 UITSTEEKSELS, UITSTEEKSTRUKTURE EN OORSKRYDINGS
12.1 Die Raad mag, onderhewig aan sodanige voorwaardes en wetgewing as wat hy raadsaam mag ag, insluitende die betaling van ‘n huur –
(a) die oprigting of behoud van ‘n veranda, balkon, teken, uithangbord of soortgelyke struktuur, toestel of lis wat in of oor ‘n openbare plek of openbare straat uitsteek of strek (hierna verwys as ‘n uitsteeksel) toelaat; met dien verstande dat –
(i) die oprigting of behoud van sodanige uitsteeksel nie toegelaat sal word op ‘n vlak van meer as een verdieping nie.
(ii) geen sodanige uitsteeksel mag vir geheel tot ‘n hoogte van meer as een komma vyf meter, gemeet van die vloerhoogte daarvan, toegemaak word nie; en
(iii) sodanige uitsteeksel mag gedeeltelik tot ‘n hoogte van meer as een komma vyf meter, gemeet vanaf die vloerhoogte daarvan, toegemaak word slegs met die voorafverkreë skriftelike goedkeuring van die raad en onderhewig aan sodanige voorwaardes as wat die raad mag oplê, of
(b) waar die oprigting of behoud van ‘n gebou of struktuur wat in, oor of onder enige openbare plek of openbare straat (hierna verwys as ‘n uitsteekstruktruur) nie ingevolge paragraaf (a) toelaatbaar is nie, die oprigting of behoud daarvan wel toegelaat sal word waar die grond wat sodanige plek of straat beslaan –
i. nie deur die munisipaliteit besit word nie, indien, na die mening van die raad, sodanige uitsteekstruktuur nie die konstruksie, onderhoud en gebruik van sodanige plek of straat sal belemmer, beperk of inbreek daarop maak nie, of
ii. deur die munisipaliteit besit word, indien, na die mening van die raad, sodanige uitsteekstrukture opgerig word as ‘n deel van die ontwikkeling van eiendom in ooreenstemming met ‘n bepaling wat in die raad se dorpsaanlegskema vervat is en wat spesifiek op so ‘n eiendom van toepassing is.
12.2 Wanneer op munisipale eiendom onder die beheer of bestuur van die raad oorskry word, mag die raad sodanige stappe as wat na die mening van die raad nodig mag wees, neem, om sodanige oorskryding te verwyder of dit te reguleer.
12.3 Die raad mag die grootte van ‘n openbare plek of openbare straat waarop oorskry word, verminder met die grootte van die oorskryding of sodanige groter oppervlak as wat, na die mening van die raad, wenslik mag wees.
MONITERING EN EVALUERING VAN BELEID UITVOERING
|
|
AKTIWITEIT |
TYDSRAAMWERK VIR RAPPORTERING
|
VERANTWOORDELIKHEID |
|
1 |
Voorsien Komitee/Raad kwartaalliks van ‘n verslag oor die uitvoering van die beleid |
Kwartaalliks |
Hoof: Korporatiewe Dienste HOP Komitee Infrastruktuur Komitee |
|
2 |
Grond oudit ondersoek moet elke vier jaar gedoen word oor die toewysing aan histories benadeelde individue |
Vier jaarliks na afloop van die implementering van die waardasierol |
Hoof: Finansiele Dienste Hoof: Korporatiewe Dienste |
|
3 |
Grond beskikbaar stel vir Groot ontwikkeling vs die hoeveelheid werksgeleenthede verskaf |
Jaarliks |
Uitvoerende Komitee HOP Komitee Infrastruktuurkomitee Munisipale Bestuurder |
|
4 |
Verhuringskontrakte van sportaktiwiteite/fasiliteite bv tennisbane gholfbane, ens moet hersien word. |
Invloed van die beleid |
Bestuurder: Gemeenskapsdienste Munisipale Bestuurder
|
|
5
|
Die inkomstebedrag genereer as gevolg van grondverkope |
Maandeliks |
Hoof: Finansiële Dienste Hoof: Behuising
|
|
6 |
Aanduiding van herbeleggings van inkomste gegenereer |
Kwartaalliks |
Munisipale Bestuurder Hoof: Finansiële Dienste Finansies Komitee |
|
7 |
Jaarlikse grondhervorming beleid uitvoering en verslagdoening |
Jaarliks |
Munisipale Bestuurder Senior Bestuur |
|
8 |
Verslag oor ondersteuning ontvang van staatsdepartemente om grondeienaarskap te bevorder/bespoedig (Titelaktes) |
Kwartaalliks |
Hoof: Korporatiewe Dienste Munisipale Bestuurder |