NAMA KHOI MUNISIPALITEIT

 

 

Beleid vir Kroeë / Nagklubs en Tavernes

 

 

Beleid

 

Dit is die beleid van Nama Khoi Munisipaliteit dat die gemeenskap en Amptenare van inligting verskaf word rondom riglyne vir die goedkeuring of afkeuring van grondgebruiksaansoeke vir kroeë, nagklubs en tavernes.

 

1.      Spesifieke Doelwitte

 

            Die doel van die beleid is om:

 

a               Die Raad in staat te stel om grondgebruiksaansoek vir kroeë, nagklubs en tavernes deur middel van duidelike riglyne te beoordeel.

 

b               Toe te sien dat die korrekte grondgebruik van toepassing sal wees.

 

c               Deur middel van tydelike vergunningsgebruik, beheer oor grondgebruik te bewerkstellig.

 

d               Openbare veiligheid en sekuriteit rondom genoemde bedrywighede te reguleer, hetsy in woongebied of sakegebied.

 

e               Geraasvlakke wat ‘n steurnis kan wees, te beperk en te reguleer, hetsy in woongebied of sakegebied.

 

f                 Voorheen agtergeblewe persone ekonomies te bemagtig en werkskepping daar te stel.

 

g               Gemeenskapsdeelname te bevorder in die vestiging van nagklubs en tavernes.

 

h              Sosiale verantwoordelikheid op eienaars te vestig.

 

 

Waar daar ‘n konflik is tussen die beleid van Nama Khoi Munisipaliteit en ander wetgewing wat betrekking het op die beleid, sal sodanige wetgewing voorkeur geniet bo die beleid.

 

 

 

2.      Algemene Bepalings

 

            Definisies:

 

a        Kroeg / Nagklubs en Tavernes:     Dit dra dieselfde definisie soos in die drankwet omskryf en beteken dit ‘n gebou waarin hoofsaaklik alkoholiese drank verkoop word vir binne–verbruik en nie van die perseel verwyder mag word nie.  Voedsel mag ook met alkohol bedien word en vermaaklikheid sluit in musiek, biljard tafels,  ensovoorts.

 

b.      Sonering:                                          Die doel waarvoor grond gebruik kan word en beperkings wat daarmee gepaardgaan.

 

c.      Hersonering:                                     Die proses van aansoek om die verandering van ‘n bepaalde grondeenheid se gebruiksregte (sonering).

 

d.  Openbare Konkurrensie:                Publieke deelname waar ‘n proses gevolg word waar die publiek beswaar kan aanteken teen ‘n aansoek om hersonering.

 

e.  Effektiewe Datum:                            Die datum waarop hierdie beleid deur die Raad goedgekeur word

 

3.      Algemene Prosedures

 

Die aansoeker doen aansoek vir ‘n vergunningsgebruik in terme van die soneringsregulasie, vir ‘n tydelike afwyking op die amptelike aansoekvorm.

 

Die perseel moet reeds gesoneer wees as sakesone 5 voordat die vergunningsgebruik daarop toegestaan kan word.

 

Indien die perseel ‘n residensiële sonering het, moet daar ook aansoek gedoen word om hersonering na die korrekte en toepaslike sake sonering naamlik  Sakesone 5,  met die vergunningsgebruik daarmee saam (indien nodig).

 

Die aansoek word vergesel van ‘n aansoekfooi soos deur die Raad jaarliks deur middel van die begroting bepaal.

 

Die aansoeker is ook verantwoordelik vir die betaling van alle ander kostes wat uit die aansoek mag voortspruit, soos onder andere advertensiekostes.

 

Aansoekfooie is nie terugbetaalbaar indien die aansoek nie goedgekeur word nie.

 

Skematiese Voorstelling:

 

Aansoek

 

Kommentaar van ander Departemente

 

Kommentaar van gemeenskap

 

Besluit van Raad met Voorwaardes

 

 

4.      Algemene Riglyne

 

Nademaal die Raad begerig is om beheer en kontrole oor kroeë, nagklubs en tavernes ens., uit te oefen, bepaal die Raad as volg:

 

4.1                   Dat die Raad vanaf die effektiewe datum slegs ‘n tydelike vergunning vir grondgebruik verandering vir die bedryf van ‘n kroeg, nagklub en taverne sal toestaan vir ‘n periode van drie jaar, onderhewig aan jaarlikse hersiening en wel op die volgende voorwaardes:

4.2                   Enige aansoek is onderworpe aan openbare konkurensie.

4.3                   Waar die perseel waarvoor aansoek gedoen word in die nabyheid van ‘n residensiële area is, moet voldoende bewyse voorgelê word waarin ‘n twee-derde meerderheid van die gemeenskap in ‘n 500 meter radius ten gunste van die besigheid is;

4.4                   Geen aansoek sal goedgekeur word waar die beoogde besigheid binne ‘n radius van 100 meter van enige skool, crèche, kerk, publieke oopruimte, biblioteek, kliniek of enige ander gebruik wat na die Raad se mening daardeur nadelig beïnvloed sal word, beplan word;

4.5                   Waar vergunningsgebruik toegestaan word, moet die lisensiehouer ook vir ‘n besigheidslisensie by die Munisipaliteit aansoek doen onderworpe aan al die vereistes wat daaraan gekoppel is;

4.6                   Dat die vergunningsgebruik nie toegestaan sal word binne enige doodloopstraat en / of lae orde straat nie;

4.7                   Volledige bouplanne, wat veral vir die nodige toiletgeriewe, dansarea, kroegfasiliteit, stoorruimte, nooduitgange, brandblussers, rooksone en parkering voorsiening maak, sal ‘n voorvereiste vir goedkeuring wees;

4.8                   Dat in die geval van ‘n nagklub en taverne dit ‘n voorvereiste is dat etes bedien word;

4.9                   Dat in gevalle waar musiek verskaf word sodanige musiek nie buite die gebou ‘n steurnis mag wees nie, met ander woorde die gebou moet klankdig wees;

4.10    Dat musiek gedurende weeksaande nie later as 22:00 gespeel word nie en gedurende naweke of ‘n aand wat ‘n godsdienstige vakansiedag voorafgaan nie later as 24:00 nie;

4.11    Kroeg, Nagklub of Taverne sal nie op godsdienstige dae of openbare vakansiedae bedryf word nie;

4.12    Dat eienaars van sodanige besighede moet toesien dat die openbare veiligheid, sekuriteit, en geraasvlakke wat ‘n steurnis veroorsaak, binne en buite die besigheidserf gehandhaaf en beperk word;

4.13    Dat eienaars toesien dat hul kliënte nie buite die besigheid op die perseel in hul motors alkohol gebruik of musiek maak nie;

4.14    Dat eienaars toesien dat hul perseel en die onmiddelike omgewing van ‘n 10 meter radius buite die perseel te alle tye sindelik sal vertoon;

4.15    Geen alkohol aan persone onder 18 jaar verkoop sal word nie; Eienaars gaan toesien dat die nodige kennisgewing in die besigheid aangebring word wat alkohol verkope aan minderjariges verbied;

4.16    Eienaars gaan nie toelaat dat persone onbeheerlik dronk of geweldadig op sy perseel gaan optree nie;

4.17    Die toegestane vergunningsgebruik nie oordraagbaar is nie.  Dit wil sê die vergunningsgebruik verval indien perseel van eienaar verwissel;

4.18    Die eienaar sal te alle tye enige Regulasie en of verordening wat deur die Plaaslike Owerheid daargestel is, nakom en moet homself van tyd tot tyd op hoogte bring van enige toepaslike regulasie of verordening wat op die bedryf van toepassing is;

4.19    Klagtes van die publiek sal deur middel van beëdigde verklarings na die Munisipaliteit gestuur word;

4.20    Die Omgewingsgesondheidsbeampte of enige ander Munisipale amptenaar met die nodige bevoegdheid kan te enige tyd enige perseel besoek vir inspeksie en/of ondersoek van klagtes;

4.21    Dat alle bestaande wetgewing mutatis mutandis van toepassing gaan wees op die tersaaklike besigheid.  (Wet op Gesondheid, Noordkaapse Wet op Ontwikkeling en Beplanning en enige ander relevante wetgewing)

4.22    Die aansoeker het die reg tot appél teen enige raadsbesluit deur die aangeleentheid te verwys na die Direktoraat in die Noordkaapse Provinsiale Regering wat verantwoordelik is vir die funksie van ontwikkeling en beplanning. Die prosedures vir appél soos uiteengesit in die Noordkaapse Wet op Ontwikkeling en Beplanning geld mutatis mutandis.

 

 

 

 

4.23    Indien die Raad, na aanleiding van besware en/of tydens ‘n ondersoek bevind dat die aansoeker gedurende die duur van die termyn van die vergunning nie hou by die voorwaardes soos hierbo vervat, kan die hernuwing van die handelslisensie en die tydelike vergunning onmiddelik opgeskort word en die aansoeker verplig word om die bedryf onmiddelik te staak.

4.24    Die Raad behou homself ook die reg voor om enige goedgekeurde gebruiksreg wat in ‘n ononderbroke tydperk van twee jaar nie uitgeoefen word nie, te laat verval en word die grondeenheid dan geag te wees die sonering waarvoor dit aangewend was voor die goedgekeurde Aansoek.

 

 

Die Raad het die beleid goedgekeur en aanvaar op  ………………….